‘N BAKEN WAT DIE TYD EN ELEMENTE WEERSTAAN.
‘n Katspoeg noord buite Port Alfred, naby die monding van die Visrivier, staan die Groot-Visrivier-ligtoring. ‘n Historiese en skilderagtige landmerk wat sedert 1898 seevaarders beskerm teen die verraderlike ooskus van Suid Afrika.
Hoewel goedkeuring vir die bou van die ligtoring reeds in 1890 deur die Kaapse Koloniale Regering gegee is, is dit eers op 1 Julie 1898, na baie vertragings, in gebruik geneem. Die kusgebied rondom Port Alfred is deur die eeue berug vir die verraderlike riwwe en sandbanke en die talle skeepswrakke is stille getuienis van die behoefte vir die ligtoring.
Die ligtoring staan op ‘n hoogte van slegs 9 meter, wat dit een van die kortste funksionerende ligtorings in die land maak. Sy ligging op ‘n heuwel sowat 800 meter van die kuslyn en 75 meter bo seespieël gee dit egter ‘n fokusvlakhoogte van 85 meter, wat beteken dat sy lig vanaf ‘n afstand van 32 seemyl (59 km) gesien kan word.
In die omgewing staan die toring bekend as die “kort rooikop met die tuxedo”, vanweë sy unieke verfkleure van swart vertikale strepe afgewissel met wit strepe op sy hoekige toring, met ‘n rooi lanternkamer en relings bo-op.
Die ligtoring is toegerus met ‘n draaiende elektriese lig wat een keer elke 10 sekondes flits, met ‘n ligintensiteit van 5 miljoen kandela. Die ligtoring het ook ‘n mishoring wat elke 30 sekondes twee keer afgaan in swak weerstoestande en is een van die min ligtorings in Suid-Afrika wat nog beman word. Die toring, soos al die ander ligtorings langs die Suid-Afrikaanse kus, behoort aan Transnet.
Hoewel die ligtoring altyd oop was vir besoekers, het Covid ‘n stop hieraan gemaak, en word besoekers steeds nie in die ligtoring toegelaat nie. Ten spyte hiervan, word die tuine van die ligtoring netjies gehou en is daar sitplek vir besoekers waar hulle hulle eie koffie en koeldrank kan drink terwyl hulle die kuslyn bewonder.
Die Groot-Visrivier-ligtoring is nie net ‘n noodsaaklike navigasiehulpmiddel vir seevaarders nie, maar ook ‘n kulturele erfenisterrein wat die maritieme geskiedenis en natuurlike skoonheid van Suid-Afrika weerspieël.
Weens sy unieke argitektuur en skilderagtige ligging is dit ook ‘n gewilde trekpleister vir toeriste en plaaslike inwoners.
Die ligtoring is toeganklik met ‘n grondpad wat vanaf die R72- snelweg afdraai, maar besoekers word aangeraai om versigtig te wees wanneer hulle in reënweer ry, aangesien die pad glad en modderig kan word.
Dit is een van slegs vyf ligtorings in Suid-Afrika wat in twee afsonderlike eenhede op die terrein selfsorg-akkommodasie aanbied. Suid-Afrika het in totaal 52 ligtorings waarvan slegs 9 nog beman word. As jy die voorreg wil hê om een van die laaste bemande ligtorings in Suid-Afrika te besoek en met die bestuurder, wat terloops die tweede geslag is van ‘n familie wat by ligtorings werk, ‘n geselsie aan te knoop is dit nou die tyd.
(Hoewel die ligtoring vir besoekers gesluit is, kon die Gopse-span met die unieke spiraaltrap opklim om die kuslyn van bo te bewonder en sien hoe die ligtoring in ‘n werkende toestand gehou word.)
- 3 REDES HOEKOM JY DIE LIGTORING WIL BESOEK
- Jy gaan vir jou peuselgoed en ‘n vars pynappelsap by die Nature’s View-padstal koop sodat jy saam met jou gesin op die houtbankies by die ligtoring kan sit en die natuur bewonder.
- Selfs sonder dat jy opgeklim het in die toring kan jy amper tot in die ewigheid insien.
- Jy wil graag ‘n selfie neem voor die ligtoring.
Adres:
Die ligtoring se afdraai word duidelik aangedui vanaf die R72. Om dit makliker te maak…. hier is die broodkrummels vir jou GPS: 33°31’10.7″S 27°06’21.5″E
Toegang:
Gratis.