DASSIEDEUR-TREINTONNEL – N VERRASSING IN DIE HEUWELS VAN DIE UITGESTREKTE OOS-KAAP KAROOLANDSKAP

Charl de Klerk- 17 April 2023

Die uitgestrekte Oos-Kaap bly maar eenmaal ‘n landstreek om sleepvoet, rustig, en met lekkerkry te ontdek. Hiervoor benodig die toeris, reisiger of avonturiër, genoeg tyd om alles te sien, te waardeer, en te ervaar. Met soveel pragtige Karoolandskappe, ongerepte kusgebiede en strande, nasionale- en provinsiale parke, privaat natuurreservate, bergreekse, riviere, damme en les bes, bergpasse om te ervaar, is dit haas onmoontlik om alles op eenslag te verken. Dit kan ‘n mens immers ‘n leeftyd neem om alles wat die Oos-Kaap jou bied, te ontdek en te beleef. Dit is nogals ironies hoeveel besoekers deur die provinsie na hul bestemmings jaag, sonder om behoorlik ag te slaan op al die interessanthede rondom hulle.  Dit is dus raadsaam om die provinsie se juwele deeglik na te vors en te identifiseer. Pen al jou voorkeure neer, stel ‘n reisprogram op, en durf die agterpaaie aan, want hier wag soveel verrassings op jou.

Die afdraai padteken op die N10 na die Dassiedeur-tonnel.

Dit is veral daardie minder bekende, en interessante plekke, of besienswaardighede, wat jou keer op keer weer na die Oos-Kaap sal terug lok.  Een sò ‘n juweel, is juis die minder bekende Dassiedeur-treintonnel en stasie, wat tussen die spoorwegstasies by Witmos en dié by Drennan geleë is. Vandag is nog net vervalle geboue en oorblyfsels van ‘n eens bedywige stasie oor. Die tonnel is in 1879 gebou. Die naam “Dassiedeur”, het volgens vertelling by konstruksiewerkers ontstaan, toe hulle verwys het na die feit dat hulle deur die heuwel gebreek het, en toe gesê het: “Daar’s hy deur”.

Dié bedrywige stasie het vir baie jare die hoofslagaar vir die vervoer van passasiers en veral landbougoedere na hul bestemmings in die geweste gedien. Onder stoomtreingeesdriftiges, is die treintonnel, straks glad nie so onbekend nie. Dog, vir die gewone toeris, reisiger of vakansieganger wat teen ‘n hoë spoed verby snel, is dié duidelike sigbare naambord “Dassiedeur”, maar net nog ‘n naam langs die besige N10, en word daar geen ag daarop geslaan nie.

Op die besige N10 roete vanaf Cradock in die rigting na Cookhouse, sowat 35 kilometer van die afdraai, verskyn die naambord, “Dassiedeur” aan die regterkant van die pad. Van besig gepraat. Hierdie roete word deur swaarvragmotors gebruik, om onder andere     mangaanerts vanaf die Noord-Kaapse mynvelde na die hawens in Gqberha en Coegha te vervoer. Bestuur asseblief versigtig!

 Met die afdraai by die Dassiedeur padteken, is jy onmiddelik op ‘n grondpad. ‘n Entjie verder aan, is daar ‘n treinspoor, en net daarna, ‘n hek. Moenie vergeet om weer die hek toe te maak wanneer jy deur gery het nie, want van hier af, is dit oop veld met loslopende diere en wild.

Boerderybedrywighede in die omgewing van die tonnel met die pragtige Karoolandskap op die horison.
Dié eens treinspoor dien nou as ‘n verbindingspad na plase in die omgewing.

Kort voor lank bevind jy jou op ‘n goed begaanbare tweespoor pad. En ja, jy bevind jou op die spoorlyn, maar sonder enige spore. ‘n Entjie verder aan, is die oorblyfsels van die stasie sigbaar. ‘n Sinkgebou wat moontlik ‘n stoorkamer kon wees, spoorweghuisie, die op-en aflaaiplatform en staalrame van wat dalk op ‘n tyd die onderstel van treinwaens kon gewees het. Onwillekeuring word jy herinner aan al die aktiwiteite wat eens op hierdie stasie kon plaasgevind het.

In die verte is die Gannahoekberge en die Bloemfonteinberge aan die westekant van die N10 sigbaar, met die Winterberge en Baviaansrivierberge aan die oostekant. Die bekende Groot Visrivier is duidelik sigbaar op hierdie roete, en kronkel deur die klowe van die heuwels in die omgewing.

Ongelukkig is die afstand vanaf die N10 na die tonnel nie bepaal nie, maar dit kan enigiets van tussen 5 tot 10 kilometer wees.  Die landskap met sy pragtige klowe, berge en groen landerye, is voorwaar ‘n prentjie om te aanskou en te waardeer, wetende dat landboudbedrywighede in hierdie geweste ‘n belangrike rol in die ekonomie van die Oos-Kaap speel.

Met die eerste oogopslag, tref die meesterlike bouwerk aan die tonnel ‘n mens. Die tonnel strek deur die Vaalkopheuwel, en wanneer jy uitklim en dit van nader bekyk, tref die gedagte jou van met watter meesterlike vernuf ingenieurs en konstruksiewerkers die tonnel gebou het. Die tonnel is ongeveer 271 meter lank, ongeveer 5.8 meter hoog en ongeveer 5 meter wyd. Daar word vertel dat nagenoeg 200 konstruksiewerkers, dag en nag in skofte van drieë, gewerk het om die tonnel te bou. Elke skof was agt uur lank, en werkers het tydens die nagskof van kerse gebruik gemaak om te kon sien wat hulle doen.

In Bulletin No. 123 April 2014 van die Railway History Group, skryf Allen Duff onder andere dat met die ontdekking van diamante in die destydse Kaapkolonie in die laat 1860s, het tot 100 000 fortuinsoekers hulle na die diamantvelde gehaas. Dit het daartoe gelei dat massas voorraad daarheen met ossenwaens gebring moes word, Dus het die Koloniale regering van die tyd, besluit om drie spoorlyne vanaf die hawens vanaf Kaapstad, Port Elizabeth en Oos London wat met die binneland verbind sou word, te bou. So het bouwerk dan aan die spoorlyn vanaf Port Elizabeth na die binneland wat dan ook die roete na Cradock gevolg het, gebou. Dié spoorlyn sou ‘n roete oor Cookhouse, Middelton, Drennan, Mortimor na Cradock volg. Lees gerus die artikel op Google oor al die interessanthede wat met die bou van die spoorlyn gepaard gegaan het.

Vandag gebruik boere in die omgewing die pad as ‘n verbindingspad van af dorpe in die omgewing om hul plase te bereik, terwyl 4×4 geesdrigtiges en motorfietsgeesdriftiges wegbreekuitstappies daarheen onderneem.

Maar wat is daar verder in die omgewing te sien en te ervaar? Wel té veel om in hierdie artikel oor uit te wei.Sorg net dat jy altyd jou kamera en verkyker byderhand het. Neem gerus kennis van die volgende wat ‘n besoek werd is. Besonderhede oor dié plekke kan op Google gevind word.

  1. Sowat 5km. vanaf die afdraai na Dassiedeur, is die Daggaboer Padstal geleë. Loer gerus daar in om te sien wat daar te ete en te koop is.
  2. Witmos Ossewakamp. As jy wil wegbreek om ‘n anderste vakansie of wegbreek te ervaar, is hierdie luukse tentkamp net vir jou en familie. Hier is 7 ten volle toegeruste ossewaens wat net wag om bewoon te word.
  3. Onderweg na Cookhouse, kry jy die Slagtersnek Monument. Besonderhede oor hierdie monument is op Google beskikbaar. As jy meer oor die geskiedenis van die monument wil lees, gaan na http://www.monument-sa.co.za >slagtersnek.
  4. Cookhouse Creamy op Cookhouse is ‘n besoek werd. Hier word heerlike cheddar- en mozzarella kaas asook botter gemaak. Dié onderneming is deel van die Just Milk Group wat melk van omliggende melkplase ontvang.

Sou jy op jou roete in Bedford te lande kom, besoek gerus De Oude Fabreeck Padstal. Hier is heerlike versnapperings te koop asook ‘n kwekery. Maar dit is nie al nie. Hier is ook ‘n meubelfabriek waar die pragtigste houtmeubels gemaak word. Loer gerus in. En dan, onthou die jaarlikse Bedford Country Garden Festival. Dit vind in Oktober/November van elke jaar plaas, en is beslis ‘n besoek werd.

Die pad deur die Dasiedeur-tonnel waar treine eens deur gestoom het.
Daar is wel lig aan die einde van die tonnel.
Oorblyfsels van die eens strukture op die platform
Hierdie verlate sinkgebou was lank gelede ‘n belangrike struktuur waarin goedere gestoor was.
Een van die vele ventilasie skagte in die Dassiedeur-tonnel.