Aan die buitewyke van Port Alfred op die R67 na Bathurst is die Port Alfred Aerodrome wat ook die tuiste van 43 Lugskool is. Wat aanvanklik in 1940 as ‘n opleidingseenheid vir die Suid Afrikaanse Lugmag en die Royal Air Force begin het om lugwaarnemers op te lei vir ontplooiing tydens die Tweede Wêreldoorlog, is vandag ‘n suksesvolle en internasionaal bekende lugskool in private besit.
As ‘n weermag-opleidingseenheid het dit onder die bevel en beheer van Groep 25, die lugmagstasie naby St George’s Park in Port Elizabeth, geval.
43 Lugskool is op 11 November 1940 gestig en opleiding het op 12 Januarie 1942 begin onder bevel van vleuelbevelvoerder F.W.H. Hall. Teen die einde van Januarie was agt Northrop Nomads en twintig Oxfords op sterkte, eersgenoemde was as sleepvliegtuie vir teikens gebruik en laasgenoemde toegerus met torings vir lugvuuroefeninge.
Militêre betrokkenheid by die lughawe het in 1957 tot ‘n einde gekom en is dit as ‘n burgerlike vliegveld gebruik. In 1n 1989 het Jim Davis die lugskool met die gepaste naam “43 Lugskool” geopen vir opleiding. Vandag huisves die geboue die moderne opeleidingfasiliteite en studentewoonkwartiere van 43 Lugskool.
As jy en die familie nou in die omgewing van Port Alfred is met jou drenteltoer, maak gerus ‘n draai by die lugskool. By die besoekersparkering is die gedenkmuur/ monument vir die eenheid se Suid Afrikaanse Lugmag en Royal Air Force lede wat tydens WO2 gesterf het. Die monument is gebou met stene van die oorspronklike geboue by die lugskool toe van die geboue gesloop is. Daarna stop julle vir iets koels en iets om die hongerte in toom te hou by die bistro, die kos is billik en goed. Die spyskaart is nie groot nie, maar alles is vars en die bier is koud.
Net aan die sykant van die bistro is die monument vir Fritz die waghond. Gaan maak ‘n draai, want naas Jock se monument in die Kruger Nasionale Park en Just Nuisance se monument in Simonstad weet ek nie van ‘n ander monument vir ‘n hond in Suid-Afrika nie. As jy weet van nog ‘n monument laat weet maar.
As jy nie gaan tyd verwyl in die bistro nie, is die besoek sowat 30 minute, selfies by Fritz se monument ingesluit.
3 REDES OM 43 LUGSKOOL TE BESOEK.
- Jy hou van lughawens want dit is waar reisdrome begin.
- Jy kan ‘n selfie by Fritz, die waghond, se gedenksteen neem.
- Jy kan sien hoe ‘n internasionaal gerespekteerde lugskool lyk en hoe professioneel dit gedoen word in die Oos-Kaap.
Adres: Port Alfred Aerodrome uitdraai is op die R67 (Bathurst-/ Port Alfred- pad).
Toegang: Gratis.