Boland toe oor berge, passe en poorte

‘n Vinnige heen en weer reis na die pragtige Bolandse dorp Wellington, het my opnuut weer met blywende indrukke gelaat, en ou herinneringe teruggebring. Op die koop toe, is ‘n aantal nuwe ontdekkings ook gemaak.

            Die doel van hierdie  blits besoek was om uitvoering te gee aan “Operasie Olielek”. ’n Lastige  olielek het meegebring dat ek Khaki, my getroue ou Land Rover Defender TD5, na kundiges op Wellington moes neem vir herstelwerk. Die manne daar is voorwaar kundiges wat betref die herstel van alle soorte en jaartal Land Rovers. So terloops, ek het al die ou Toyota grappies reeds gehoor, maar wees verseker, Khaki was op plekke waarvan ander viertrekvoertuie net kan droom.

            Maar terug by berge, passe, poorte en ‘n vergete stasie. Die roete vanaf die huis volg die R72 tot by die Nanaga Padstal waar die R72 by die N10 aansluit en wat dan die N2 word wat die roete verder na Gqeberha tot in Kaapstad volg. Maar hierdie roete is gans te vinnige en vervelig vir Khaki. Net verby Humansdorp met die Elandsberge en die Groot-Winterhoekberge in die verte, druk ek Khaki se neus in die rigting van die R62 op die alombekende Langkloof-roete. Die Tsitsikamme-berge glinster na die kus se kant toe. Al kronkelend volg ek die R62 met die Baviaanskloofberge en die Kougaberge duidelik sigbaar in die verte. Dit is sterk somer, die son brand warm, en ons vergaap ons andermaal aan die skoonheid van die Langkloof. Klein dorpies flits verby. Elkeen het sy eie storie om te vertel. Weerskante van die pad is daar talle peer en -appelplase, Die boorde staan welig groen.

            Net na die dorpie Avontuur, draai die pad weg na Uniodale. Dit is die eerste keer wat ek hierdie roete volg. Andere kere, ek kan ongelukkig nie onthou hoeveel nie, het ek die roete gevolg waar die pad by die N9 na Oudtshoorn en George aansluit. Dit is ook die eerste keer wat ek deur die Uniondale Poort ry. My verbasing ken geen perke en is verras deur die pragtige natuurskoon en berge weerskante van die pad. Om elke draai is daar ‘n toneel wat jou asem wegslaan. Ek het deur die jare al oor verskeie bergpasse en poorte gery, maar Uniondale Poort was ‘n aangename verrassing. Ek sal beslis weer hierdie pad ry, maar dié keer, teen ‘n veel stadiger spoed en straks ook iewers oornag. Alles om die saligheid van hierdie juweel van ‘n omgewing meer intens te kan ervaar.

Uniondale Poort

            Na my Uniodale Poort ervarig, volg ek die roete na De Rust. Deur die Klein-Karoo se pragtige en gekiedkundige  dorpe. Oudtshoorn volg eerste met Calitzdorp skaars ‘n halfuur later en toe volg Ladismith, Barrydale, Montague, Ashton, Robertson, Worcester, Wolseley, verby Tulbargh en Hermon tot by Wellington.

Robertson
Barrydale

Op hierdie roete vergaap ek my aan die bekoorlike Kammanasieberge, die indrukwekkende Groot-Swartberge, Klen-Swartberge, Rooiberge, Langeberge en les bes een van die juwele van die Wes-Kaap, die Hexrivierberge en Dutoitskloofberge. Daar was nie genoeg tyd om al die afdraai paaie op hierdie rit aan te durf nie, maar lank gelede in my koerantdae by Die Burger op George, het ek hierdie omgewing behoorlik verken.  Soveel ou herinnering het weer terguggekeer.

Bainskloofpas

  Om vir die hoeveelste keer deur die volstruis hoofstad van die wêreld te ry waar soveel verandering oor die jare plaasgevind het, bring vele ou herinneringe terug. Oor die Huisrivierpas en deur Kogmanskloofpas tot by Wellington, is dit die een vrugte- en wingerdplaas op die ander. Voor waar ‘n plesier om die R62 te ry met sy vele afdraai paaie, padstalle en dan, die skoonheid van die Klein-Karoo en die lowergroen Boland.

Kogmanskloof

            ‘n Vinnige draai in Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes, het gesorg vir verdere ervarings en verrassings. Dit is wyn- en olyfwêreld hierdie. Gaan geniet dit.

Riebeek Vallei
Aston
Worcester

          Met Khaki se olielek iets van die verlede, is dit terug huiswaarts. Dieselfde roete, maar by De Rust word daar besluit om vir die soveelste keer deur Meiringspoort te ry. Die rede, ek wil by Klaarstroom uitkom. Dit altyd iets besonders om deur die poort met al sy bruggies en draaie te ry. Die poort vra nie om daar deur gejaag te word nie. Nee, adem die prag van die Swartberge met sy wondelike natuurskoon in.

Met my aankoms in Klaarstroom, vang my oog die Willowmore naambord. Dit is ‘n grondpad van ongeveer 90 kilometer. Ek wou nog altyd hierdie pad ry, maar die geleentheid was nooit daar nie. Terloops, dit is juis die rede hoekom ons verkies om agterpaaie te ry. Om iets nuut te ervaar. Die pad is in ‘n baie goeie toestand en die landskap met al  die heuwels en berge, maak die rit nog meer interessanter. Min het ek geweet watter ander verrassing op hierdie roete vir ons gewag het, maar meer daaroor in ‘n latere aflewering.

Dit is moeilik om al die interessanthede op die R62 hier te bespreek. Google gerus die dorpies op hierdie roete en sien wat alles oor die plekke geskryf is en besluit dan self wanneer jy daarheen wil reis.

Bronne gebruik:

  • Passes&Poorts: Getaway’s top 30 scenic mountain routes in the Western Cape – Marion Whitehead
  • South Africa’s Favourite Passes&PoortsMarion Whitehead
  • www.mountainpassessouthafrica.co.za
  • Verskeie reisatlasse van Suid-Afrika
  • The Republic of South Africa: Getting There – Tourism Info Pages. 2007