Die bekoring en nostalgie om per trein deur ons land met sy wegslaan natuurskoon te toer, bly nou maar eenmaal ‘n belewenis en ervaring om van te droom. Dit is dan ook nie vreemd dat vele sangers hierdie ritte en veral ritte deur die Karoo, sò hartstogtelik besing nie. Die klanke van n trein wat oor berge, heuwels en deur klowwe voort stu, is iets besonders om te beleef. Ongelukkig het treinreise deur ons land sodanig tot stilstand gekom dat dit vir die meeste van ons net ‘n droom sal bly. Op talle roetes, is net oorblyfsels van vervalle geboue, platforms, geroeste spoorstawwe, en hier en daar, die murasies sigbaar van wat eens ‘n pragtige spoorwegstasie was. Een sò ‘n vergete stasie is Vondeling. Hierdie eens pragtige stasie met sy imposante boustyl, is geleë op die skilderagtige roete tussen Klaarstroom en Willomore. Die Trakarivier vloei naby die stasie verby.
Die stasie is weggesteek diep in die Klein-Karoo tussen die Groot-Swartberge en die Kammanassieberge. Die bouwerk aan die spoorlyn vanaf Oudtshoorn na Klipplaat het in Mei 1896 begin en in 1899 voltooi. In Maart 1904, na die beëindiging van die Anglo Boere-oorlog, is die spoorlyn tussen Oudtshoorn en Klipplaat inwerking gestel.
Om meer oor Vondelingstasie te wete te kom, besoek gerus die webblad, “Soul of the Railway”. Die outeurs Les Pivnic en Charlie Lewis, verskaf daarin volledige besonderhede oor die redes vir die bou van die spoorlyn en presies wat alles tydens die bou daarvan, plaasgevind het.
Die Karoo is welbekend vir sy oop vlaktes,skilderagtige berge, droeë rivierlope, en natuurlik, talle grondpaaie wat veral die minder bekende dele van die gebied vir die avontuurlustige motoris ontsluit. In baie gevalle lei grondpaaie die motoris gemaklik na bekende bestemmings, maar in ander gevalle ontsluit die paaie, nuwe verrassings. Soms beland jy in die grammadoelas en dit is dan hier waar die skoonheid van die Karoo al sy verrassings aan jou openbaar.
Dit is egter so dat nie alle motoriste tyd op ‘n vervelige grondpad wil verkwis nie, en verkies daarom om eerder op die gerieflike hoofroetes na hul bestemmings te ry. Die verlies van ‘n motorband of om sonder brandstof op ‘n onbekende grondpad te gaan staan, is vir baie van ons net ‘n té groot risiko.
Die grondpad vanaf Klaarstroom na Willomore wat oor ongeveer 90 kilometers strek, is een van die grondpaaie wat dalk nie op almal van ons se reisprogram is nie. Daarvoor is die teerpad vanaf De Rust na Willomore net te gerieflik. Maar wanneer jy na die eerste paar kilometer die gemak van die grondpad beleef, kan jy nie anders as om verder aan te ry nie. Die pad is in ‘n uitstekende toestand en die imposante Swartberge en Kammanassieberge betower jou in die verte om elke draai. Hoe verder jy met die pad aanry, ontsluit nog meer berge in die verte. Die natuurskoon voor jou in die pad namate jy op die rit vorder, word net meer bekoorlik namate die Droeëkloofberge, Boesmanspoortberg, Grootrivierberge en Baviaanskloofberge, al duideliker op die horison sigbaar raak.
Wanneer jy Willomore binne ry besef jy op eens hoe lank hierdie rit geduur het. Met al die stilhou om fotos te neem, rotsformasies van nader te beskou, vreemde voëls waar te neem en selfs ‘n reus van ‘n bergskilpad wat in die middel van die pad vir ‘n wyle vertoef, en na veiligheid te bring, het tyd nie gaan stil staan nie. Wees dus gewaarsku. Wanneer jy dalk op ‘n dag besluit om hierdie roete te ry, maak seker jy sit genoeg tyd opsy, want hierdie is nie ‘n pad om af te jaag na jou bestemming nie. Daar is eenvoudig net te veel om te sien en te beleef. Gaan geniet ook die koservaring van hierdie pragtige Karoo dorp.
Wat alles om te doen:
- Klaarstroom: Google om meer inligting oor hierdie skilderagtige gehuggie te bekom of verkry meer inligtig by die toeriste inligtingskantoor op De Rust.
- Willomore: Maak ‘n punt daarvan om die volgende te gaan besigtig of te doen:
- Neem ‘n rit op die Willomore Limo deur die dorp se strate.
- Besoeke:
- “Die Wonderboom”
- Die ou Duitse Gereformeerde Kerk
- Die ou tronk
- St Matthews Kerk
- “Rooi Bruggie”
- “Karoo Angels Fabriek”
- Grafte uit die Anglo Boere-oorlog
- Die ou Blackstone Power House
- Bakes Dam
- Die Joodse Synagoge
- Ou ammunisiemagasyn