Die aanjaag van ‘n trop skape is ‘n algemene gesig op paaie in die Oos-Kaapse Hooglande.Wees geduldig, versigtig en heelaas vriendelik met die werkers wat met groot sorg na boere in die gebied se skape omsien.
Die bergkoninkryk van Lesotho is alom bekend vir sy indrukwekkende Malutibergreeks en word deur menige avonturiërs en reisigers in dieselfde asem as die Alpe in Europa genoem. Dog, ‘n aanliggende gebied in Suid-Afrka, wat ongelukkig nie baie besoekers lok nie vanweë die stand van paaie en infrastuktuur, is die Oos-Kaapse Hooglande. Met sy hoë berge, kristal helder riviere, skoon berglug, verstommende rotsformasies, watervalle, en natuurlik bergpassse, is dié omgewing beslis vir enige toeris ‘n moet om te besoek.
Die Oos-Kaapse Hooglande vorm deel van die mees suidelike deel van die Drakensberg-reeks. Net suid van Lesotho aan die onderpunt van die Drakensberge is onder andere dorpies soos Lady Grey, Rhodes en Barkly-Oos geleë. Dié streek maak deel uit van die Ukhahlamba Distrik Munisipaliteit met Venterstad in die weste, tot by Mount Fletcher in die ooste, en van Sterkspruit in die noorde, tot by Indwe in die suide. Die gebied sluit verskeie unieke bakens in soos onder andere die Gariep Dam, verskeie indrukwekkende bergpasse soos die Naudesnekpas wat die hoogste bergpas in Suid-Afrika is, en Joubertspas, wat gereken word as die derde hoogste bergpas. Met ‘n hoogte van 3001m word Ben MacDhui beskou as die hoogste berg in die land. Hier is nie minder as 18 bergpasse in die omgewing en bied eindelose uitdagings, pret en plesier aan die geesdriftige toeris en avonturiër.
Die indrukwekkende hoë bergreeks, getuig van die geologiese transformasie wat die Drakensbergreeks gevorm het. Daarmee gepaard, huisves die gebied nie net ‘n botaniese skat nie, maar is ook die tuiste van meer as 250 verskille voëlsoorte waaronder verskeie soorte aasvoëls, arende, kraanvoëls en die Mahem, die bekendste is. ‘n Aantal grotte is ook die tuiste van verskeie plate San en Khoi rotstekeninge. Diegene met ‘n belangstelling in hierdie kunsskat kan gerus die stapskoene aantrek en met die nodige toestemming, daarna gaan kyk.
RHODES
Inwoners van dié toeriste dorpie, beskou Rhodes as die middelpunt van die heelal. En hoe dan nou anders. Geleë in die spreekwoordelike grammadoelas omring deur betowerende berge tussen niks en nêrens, is Rhodes waarskynlik die gewildtse onder al die dorpe in die omgewing. Vir menigte toeriste is hierdie juweel van ‘n gehuggie, ‘n moet op hulle lys van plekke om te besoek. Dit is dan ook nie vreemd dat dié dorpie veral onder 4X4 geesdriftiges gewild is omdat soveel bergpasse hiervandaan aangedurf kan word. Vir avonturieërs wat smag na ‘n adrenalien ervaring, is daar net soveel aktiwiteite om te ervaar. Die gewildste van hierdie avonture is natuurlik die jaarlikse forelhengel kompetisie wat honderde vlieghengelaars lok, die Rhodes bergfiets-uitdaagwedrenne, en dan ook die uitmergelende Rhodes-padwedloop. So terloops, moet ook nie van die Rhodes Stoepsitfees vergeet nie. Hierdie fees is verseker ‘n belewenis wat nie mis geloop moet word nie. Rhodes is in 1891 gestig, en na Cecil John Rhodes, die destydse Premier van die Kaap Kolonie vernoem. Dié omgewing is voorts ook in 1997 tot ‘n bewaringsgebied verklaar. Besoek gerus die Webblad: rhodesinfo.co.za vir meer inligting oor wat hierdie beeldskone dorpie met sy Victoriaanse karakter die toeris alles bied.
NAUDESNEKPAS
Naudesnekpas, geleë tussen Maclear/Mount Fletcher en Rhodes, is een van daardie bergpasse in Suid-Afrika wat op elke avonturieër se reisprogram behoort te wees. Die broers Stephanus David en Gabriël Naude, het dié roete in 1896 te perd aangedurf. Hulle was met groot uitdagings gekonfronteer en het met moeite die roete uitgelê, en gebou om te dien as toegangsroete na plase in die gebied. Hierdie is ‘n landboustreek en is welbekend vir sy gemende boerdery. Naudesnekpas is ‘n besonderse pas om aan te durf. Nié alleen word die pas beskou as die hoogste bergpas in Suid-Afrika wat ‘n grondpad is nie, maar ook omdat die natuurskoon van die Oos-Kaapse Hooglande op ‘n hoogte van 2,590m in sy volle glorie te voorskyn kom.
Om die werklike uniekheid en natuur skoonheid van die omgewing in te adem en te waardeer, moet jy jouself oorgenoeg tyd toelaat om ‘n onvergeetlike ervaring te hê. Hier is net té veel prentjie mooi natuurtonele om op kamera vas te lê. Om oorhaastig te wees gaan jou beslis net later met spyt en teleurstelling laat. Die benadering om hierdie pas te ry moet een wees van verantwoordelikheid, versigtigheid, bedagsaamheid, rustigheid en waardering. Die pas is gewoonlik in ‘n goeie toestand en kan met ‘n gewone voertuig aangedurf word, alhoewel ‘n voertuig met ‘n goeie grondvrye hoogte of ‘n viertrekvoertuig, aanbeveel word. Vra gerus die plaaslike inwoners in watter toestand die pad is alvorens jy die tog aandurf. Dit is ook belangrik om te weet watter seisoene die beste is om die pas te ry. Sommige wintermaande sneeu dit hier terwyl in somermaande donderstorms paaie erg kan verspoel.
Dit moet ingedagte gehou word, dat bergpasse baie gewild onder 4X4 geesdriftiges is, en menige toeroperateurs begelei toeriste na hierdie geweste. In sommige gevalle is van die bestuurders op hierdie toere baie onervare bestuurders wat betref die bestuur op bergpasse en hou dit heelwat uitdagings in. Dit is nie vreemd om in ‘n groep van tot 20 voertuie op sò ‘n toer vas te ry nie. Glo my, dit is geen grap om tussen soveel voertuie vasgevang te wees nie want vir stilhou om al die mooi natuurtonele te waardeer of fotos te neem is daar nie sprake van.
‘n Verrassing op hierdie roete is Tenahead Moutain Lodge. Weggesteek in die diepklowe van die berge en geleë langs die Bellrivier, is hierdie vyfstel boetiekhotel beslis ‘n besoek werd. Op ‘n hoogte van 2 500m is dié hotel een van die hoogstes in die land. Besoek gerus die webblad: www.tenaheadmountainlodge.info om te sien watter huisvesting en aktiwiteite die hotel jou alles bied.
BARKLYPAS
Die Barklypas tussen Khowa (Elliot) en Barkly-Oos verteenwoordig een van die asemowendste en volledigste geologiese rotsformasies van die Bo-Karoo-reeks en is vernoem na Sir Henry Barkly, ‘n voormalige goeweneur van die Kaap Kolonie. Die pas vind sy weg deur die ruwwe sandgesteentes van die Molteno-formasie, die rooi moddergesteentes van die Elliot-formasie en die roomkleurige sandsteen van die Clarens-formasie. Op die kruin van Barklypas, ontvou die Drakensberg-lawaformasie met sy unieke en skouspelagtige geologiese terreinvorme. Die pas bereik ‘n hoogte van 2 020m op sy kruin. Die bestaande R58 teerpad is in 1975-76 voltooi. Wat aanvanklik ‘n voetpad was, is teen 1879 herbou tot voordeel van die inwoners in die gebied. Die Mountain Shadow hotel is ‘n gewilde plek om te vertoef en is in wintertyd, en veral wanneer sneeu oor die gebied uitgesak het, baie gewild. Besoek die webblad: www.mountainshadowhotel.co.za vir meer besonderhede. Ruim gerus tyd in om die wonderskoon van hierdie omgewing te ervaar want om elke draai wag ‘n prentjie mooi toneel wat jou asem gaan wegslaan. Maar belangrik. Maak vooraf ‘n punt daarvan om deeglike navorsing oor hierdie deel van ons land te doen want sodoende sal jy bemagtig wees met die nodige kennis om die Hooglande te waardeer.
My sloertoer roetes:
- Na Rhodes: Kleinemonde, Port Alfred, Bathurst, Makhanda/Grahamstown, Fort Beaufort, Sada, Whittlesea, Queenstown/Komani, Lady Frere/Cacadu, Cala, Quiba, Elliot/Khowa, Barkly-Oos, Moshesh’s Ford, Rhodes.
- Na Kleinemonde: Pithlochrie Farm/Wartrail area, New England area, Barkly-Oos, Elliot/Khowa, Indwe, Dordrecht, Queenstown/Komani, Sada, Fort Beaufort, Grahamstown/Makhanda, Bathurst, Port Alfred, Kleinemonde.
Padstal: Besoek gerus die Baddasford padstal net buite Fort Beaufort onderweg na Queenstown/Komani. Die verskeidenheid produkte wat te kope is sal jou beslis verras. Onthou, hierdie is sitruswêreld.
Belangrik advies:
- Maak seker jou voertuig se brandstoftenk is te alle tye behoorlik gevul, maar beter nog, neem ‘n paar ekstra liter saam vir net ingeval. Rhodes het nie altyd brandstof beskikbaar nie. Gewoonlik net diesel.
- Maak ook seker jy het genoeg tyd aan jou kant om vanaf Barkly-Oos na Rhodes te ry. Dié pad is nie altyd in ‘n goeie toestand nie, veral na swaar reën.
- Onthou om jou voertuig se banddruk na te gaan sodat jy ‘n gemaklike rit sonder fieterjasies kan hê.
- Die plaaslike kontreiwinkels op Rhodes maak voorsiening vir die nodige produkte terwyl eetplekke besoekers met warmte en oop arms ontvang.
Bronne:
- Boek: South Africa’s Favourite Passes&Poorts. Marion Whitehead. Eerste Uitgawe 2018
- Webblad: mountainpassessouthafrica.co.za
- Webblad: rhodesinfo.co.za
- Brosjure: Mountain Passes of the Eastern Cape Highlands – The Wild Side of the Drakensberg: www.echighlands.co.za
- Brosjure: MalotiDrakensberg Route: www.malotidrakensbergroute.co.za
- Charl het die Oos-Kaapse Hooglande in April 2024 verken