DIE WILDER MELKPLAASPAD VAN ALEXANDRIA

Wanneer jou toerwa se enjin goed opgewarm is na die Melkplaasroete wat Charl so treffend beskryf het ( https://www.gopse.co.za/2024/03/21/kuspad-deur-melkplase/ ), en jy het by die Lunchbox op Alexandria gestop vir ‘n koue koeldrank en tuisgemaakte pastei is jy gereed om jou toerwa se neus in die rigting van Port Elizabeth te druk op die R72. Net so voor jy die Boschoek padstal kry, is daar ‘n Boschoek grondpad wat na links uitdraai.

Verken maar gerus die grondpad, mits jou voertuig effe hoër is as die gemiddelde 3-reeks wat tussen Port Elizabeth (Gqeberha) en Port Alfred voortspoed en die melkplaaspad, die padstalle en die uitsig mis, net om agter ‘n groot vragmotor vas te val tot by Kenton-on-Sea.

Wanneer jy om die eerste draai ry gaan ‘n nuwe wêreld voor jou oop van reuse koraalbome, melkhoutbome aalwynlanings en grasgroen aangeplante weidings. Want hierdie is melk-wêreld. Groot melk-wêreld. Jy gaan nie veel ander toerwaens op die stuk pad sien nie, maar ek kan jou waarborg jy gaan die pad erens met ‘n melkkarweier moet deel. Wees maar geduldig en verkyk jou aan die groen van die Oos-Kaap, die reuse boomaalwyne en die bloedrooi van die koraalbome. Tussenin is groot spatsels melkkuddes wat jou uitdaag vir foto’s. Die grond ruik vars en die kronkels van die grondpad nooi jou uit om verder te ry.

Die pad is nie so lank soos die melkplaaspad nie, maar jy sal jou toerwa so ‘n bietjie modder, amperse slote, hoë middelmannetjies, ‘n tweespoor-slingerpad en ruigtes kan gee.  Net genoeg sodat die passasiers hier en daar aan die help-my-handvatsel kan gryp en jy met ‘n permanente glimlag op jou bakkies kan sit.

Net sodra jy deur die ruigtes is en weer die eerste plaashuis sien, gaan jy terugkyk en ‘n padteken sien wat sê die pad loop dood. Die teken is nie daar as jy van die teenoorgestelde kant kom nie. Ek reken dit is om seker te maak daar is nie tweerigting verkeer op die stukkie pad deur die ruigtes nie. Want as jy in die middel van daardie ruigtes is en daar kom ‘n ding met meer as twee wiele van voor af, gaan dit bars om die hele stuk terug in trurat te ry. Jou humorsin gaan net so die eerste 50 meter dink dis snaaks.

Wanneer jy deur die ruigtes is raak die pad weer oop en verander die landskap na weivelde, melkhoutbome en kan jy die Alexandria duineveld so skuins voor jou sien.

Dan is dit net so ‘n paar kilometer en jy sluit weer by die R72 aan. Draai regs as jy Port Alfred toe gaan of links as jy Port Elizabeth (Gqeberha) toe gaan.

Stop maar by een van die vele  padstalle en kry ‘n koeldrank of ‘n koffie. Jy kan maar die glimlag op jou bakkies nog vir ‘n rukkie hou.

As jy jou GPS nodig het, reken Google maps hierdie is die koördinate -33.640433, 26.328061. Ek sal maar net tot by die Boschoek uitdraai ry. Dit is so 8,2km buite Alexandria.

Hier is die skakel na die kaart toe. https://maps.app.goo.gl/uhSQ8NdcRDc4ziRQ7

Hoeveel tyd gaan jy nodig hê? Dit kan jou so ‘n uur of wat besig hou. Moet dit nie afjaag nie. Jy is met vakansie en jou sloertoer is wat dit die moeite werd maak.

Net soos op die Melkplaaspad is daar op die wilder melkplaaspad talle fotogeleenthede.

Ek dink die pad sal nog wilder wees na ‘n reënbui. So wees versigtig.

3 Redes hoekom jy die wilder melkpaaspad wil ry.

  • Jy wil voel dat jy ‘n regte plaaspad met jou toerwa gery het.
  • As die koraalbome en aalwyne in blom is, hier teen einde Junie, Julie elke jaar, dan is dit skouspelagtig.
  • Jy wil deur die ruigtes ry en daardie aand langs die vuur net weer herhaal hoe dankbaar jy was dat daar nie ‘n voertuig van vooraf gekom het nie.