Toe
Nou
Diep in die hart van die Oos-Kaapse Drakensberg, geleë in die spreekwoordelike grammadoelas, vind jy die vrugbare landboustreek, Wartrail en New England. My gewaarwording van hierdie streek herinner my onwilllekeuring aan die Skotse Hooglande en die Switserse Alpe. Dit is bloot omdat dié streek sò afgeleë, ongerep en betowerend is. Gevul met unieke natuurskoon en weg van dig bewoonde gebiede, grens Wartrail en New England teenaan Lesotho.
Omliggende dorpe soos Lady Grey, Rhodes en Barkly Oos is maklik bereikbaar met ‘n goeie padvervoernetwerk. Dit is beslis die misterie van die agt omkeerhaltes op die spoortrajak tussen Aliwal-Noord en Barkly-Oos,wat besoekers na hierdie deel van ons land bring, en dan ook nie om te praat van die vele wat opsoek is na uitdagings en avontuur.
Die gebied is besonder ryk aan geskiedenis. Die San-gemeenskap was die eerste bewoners van die gebied en hul kunsskatte in die vorm van pragtige en goed bewaarde rotstekenninge kan op verskeie plekke besigtig word.
Met die koms van die 1820 Britse Settelaars en Trekboere in die omgewing van Grahamstad en omliggende dorpe, het baie boere vanweë die konflik met die plaaslike Xhosa-bevolking, die streek verlaat om ‘n heenkome in Wartrail en New England te vind. Vandag woon daar nog, 3de en 4de generasies nasate in die streek. Die gebied is in 1861 vir die eerte keer deur die Ier Joseph Orpen opgemeet en plase het name soos Ben Nevis, Glen Gyle en Pitlochrie gekry omdat die streek hom baie aan die Skotse Hooglande laat terugdink het.
Wartrail moet nie verwar word met ‘n roete nie soos baie mense al gedink het nie. Nee,dit is ‘n landboustreek. Die naam Wartrail, het sy oorsprong na aanleiding van die talle skermutselings wat met die Xhosa gemeenskap in Barkly-Oos en burgers van Lesotho geheers het. Veestropers van koning Moshesh van Basoetoland (Lesotho) het in die tyd strooptogte oor die Malutiberge op hierdie roete gelei. Die goeweneur van die destydse Kaapkolonie, het bemande grensposte op die roete aangebring om die stooptogte hok te slaan.
Maar terug by die agt omkeerhaltes. Daar is na die trajak verwys as die “zig zag” spoorlyn en het gestrek vanf Aliwal-Noord tot by Barkly-Oos. Dit was ‘n taklyn wat vanaf die hooflyn by Burgerdorp na Bloemfontein afgesplit het en loop deur asemrowende natuurskoon van die suidelike Drakensberg. Om kostes te bespaar moes die ingenieurs hul beplanning sodanig doen om nie kunsmatige strukture op te rig nie, maar eerder die spoorlyn by die eienskappe van die landskap aanpas om elke heuwel, berg en rivier te bemeester. Die kronkelende spoor het meegebring dat konstruksiewerk baie langer geneem het as wat beplan was. Die vallei van die Karringmelkspuit, ‘n klein rivier, moes oorkom word, en so ook die afdaal na die vallei van die Kraairivier. Hierdie hindernisse is deur die gebruik van die agt omkeerhaltes bemeester. Daar word vertel dat die idee van die omkeerhaltes die gedagte van een van die ingenieurs se eggenote was.
Die eerste lokomotief wat op die spoor diens gedoen het, was ‘n Klas GB Garrat. Dit was heel geskik vir die steiltes en teen 1964 was sewe Garrats op die spoor in bedryf. Op 26 Mei 2001 is, die laaste treinrit onderneem. Die spoorlyn het treingeesdriftiges uit alle wêrelddele hierheen gelok. Die trajak is gesluit na ‘n tragiese treinongeluk op 10 Oktober 1992 waarin ses mense omgekom het.
Ek was bevoorreg om in 1977 ‘n rit op hierdie trakjak te kon meemaak en die blywende indruk wat dit op my gemaak het, is vandag nog diep in my vasgevang. Hoewel ek die Oos-Kaapse Hooglande sedertdien verskeie kere besoek het, was my besoek onlangs aan die Wartrail en New England streek die eerste keer sedert 1977. Al die ou herinneringe is weer terug en het ek die geleentheid gebruik om die streek behoorlik vanaf my verblyplek by Pitlochrie te kon verken.
Vir die avonturieër is die Wartrail en New England streek beslis ‘n moet om te besoek, want hier vind jaarliks ‘n magdom uitdagende en interessante aktiwiteite plaas soos forelhengelkompetisies, die uitmergelende Skyrun, die MacNab jagkompetisie, begeleide 4X4 toere op die verskillende bergpasse in die omgewing en natuurlik die Ben 10 Eco Uitdaging, wat baie gewild onder 4X4 geesdriftiges is. Doen gerus navraag oor die verskillende aktiwiteite by die toeriste-inligtingskantore van die genoemde dorpe.
Die volgende bergpasse is in die onmiddelike omgewing wat verken kan word.
- Volunteershoekpas: Die pas is in die laat 1980’s deur boere in die omgewing en met befondsing van die polisie gebou wie die pas as ‘n patrollieroete gebruik het. Die pad begin op die plaas Funnystone en dele daarvan volg ‘n ou veeroete. Die pas eindig by die Tiffindel Ski-oord en bereik ‘n hoogte van 2381m en is ongeveer 9.6km lank. Wees net daarop bedag dat dit nie een van die maklike passe is om te ry nie en aanduidings is dat dit op die oomblik nie toeganklik is nie. Vra rond voor jy dit wil ry.
- Carlisleshoekpas: Dié pad staan ook bekend as Carlisleshoekspruitpas en is ook in die laat 1980’s deur plaaslike boere met befondsing van die polisie gebou en het gedien as ‘n patrollie pad.Die pas is vernoem na die Carlisle familie wie in die omgewing geboer het. Die pas is tussen Rhodes en Tiffindel Ski-oord geleë en strek oor ‘n afstand van 19km. Die pas bereik ‘n hoogte van 2517m.
- Joubertspas: Dié pas kruis die Witteberg bergreeks tussen Lady Grey en Barkly-Oos en kan van beide rigtings gery word. Die pas bereik ‘n hoogte van 2234m en word beskou as die vierde hoogste bergpas in Suid-Afrika.
- Benjaminshoogtepas: Die pas is vernoem na ‘n boer wat op die top van die pas geboer het. Die pas is op die R58 tussen Lady Grey en Barkly-Oos geleë en bereik ‘n hoogte van 1950m.
- Lundeansnekpas: Dié pas is vernoem na ‘n handelaar met die naam van Lundin wat aan die onderent van die pas ‘n winkel gehad het. Die pas verbind ook die Telle Brug Grenspos met Barkly Oos, en is sowat 73km vanaf Sterkspruit na die R58 by Barkly-Oos. Die pas is ongeveer 14km lank en bereik ‘n hoogte punt van sowat 2162m.
- Kraairivierpas: Dit is ‘n kort geteerde pas op die R58 tussen Barkly-Oos en Lady Grey en vernoem na die Kraairivier wat onder in die vallei verby vloei tot in die Oranjerivier. Die pas is sowat 10km lank.
- Neem kennis: Jy kan ook die nie minder as 18 omliggende passe aandurf mits jy genoeg tyd daarvoor toelaat. Met die skryf van hierdie artikel was die Tiffindel ski-oord gesluit.
Pragtige omgewing by Pitlochrie
Hier is ook enkele skakels wat meer inligting oor die omkeerhaltes, bergpasse en aktiwiteite gee.
https://af.wikipedia.org/wiki/Spoorweg_Aliwal-Noord%E2%80%93Barkly-Oos
https://www.internationalsteam.co.uk/hills/pdf/barklyeast.pdf
https://www.mountainpassessouthafrica.co.za/news/1713-latest-news-20th-may,-2021.html
https://showmesa.co.za/kraai-river-pass-from-barkly-east-to-new-england-or-wartrail
YouTube: The Steamfreak Channel – Riding the Reverses -19D3323 on the Barkly East Branch
http://www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/eastern-cape/itemlist/tag/new%20england.html
http://skyrun.co.za/wp-content/uploads/2018/04/Lady-Grey-Accomadation-New-2018.pdf