SOU KERKE MICHELIN-STERRE KRY……

In 1900 het die Michelin-broers ietwat van ‘n probleem gehad. Motors was ‘n nuutjie en min het verkoop met die gevolg dat min Michelin-bande ook verkoop het. Om meer bande te verkoop moes meer mense motors koop en ook meer ry. As ‘n bemarkingsfoefie om meer motors, en dus meer bande verkoop te kry, het hulle die eerste Michelin-gids in Frankryk uitgegee.

Die gids was gratis en het kaarte van gewilde roetes gehad waarop hotelle en restaurante aangedui is, waar werktuigkundiges gekry kan word asook hoe om jou band te herstel as daar ‘n probleem sou wees.

Binne ‘n dekade was die gids gewild en regdeur Europa en ook Noord-Afrika beskikbaar.

As gevolg van die Eerste Wêreld Oorlog is produksie van die gids gestop maar teen 1920 was dit weer terug op die mark. In 1926 het die Michelin-gids begin om sterre aan restaurante toe te ken:

  • 1 Ster vir ‘n baie goeie restaurant in sy kategorie.
  • 2 Sterre vir baie goeie kookkuns wat ‘n ompad werd is.
  • 3 Sterre vir uitstaande kos wat ‘n spesiale reis werd is.

En so het die bekende Michelin-sterre ‘n teken van kwaliteit geword.

Wat my met ‘n lang draai by die Metodiste-kerkie op Salem, in die Oos-Kaap uitbring. Want sou kerke Michelin-sterre kry sou Salem se Metodiste-kerk ‘n 2-ster wees, want dit is die moeite werd om die ompad na Salem toe te ry tydens jou Oos-Kaapse sloertoer.

Effens uit die pad uit, vandaar die ompad, op die R343, en sowat 32km vanaf Kenton-on-Sea, of  as alternatief wanneer jy op die N2 is, 26km op die R343 vanaf Grahamstad (Makhanda) kom jy sonder vooraf waarskuwing op Salem af. Tussen die golwende heuwels van die Oos-Kaap, omring deur talle Groot-5 wildsplase, sien jy eers die krieketveld en dan oorkant die krieketveld die toring en wit mure van die Metodistekerk.

Soos ‘n baken steek dit teen die koppie uit. Stop. Gaan rek bene daar en loop deur die kerkie. Verkyk jou aan die loodglaswerk wat hulde bring aan al die soldate wat in die twee Wêreldoorloë dood is.

Die eerste kerkie uit modder is reeds in 1824 deur die Britse Setlaars in gebruik geneem en in 1832 is  die modderkerkie met ‘n beter struktuur vervang. Die kerkie staan steeds langs die huidige kerk en is ook oop vir besoekers. Dis is tewens ook die oudste Metodiste-kerk in Suid Afrika.

Die 1832 kerkie is veral tydens die Grensoorloë gebruik as skuiling vir die vroue en kinders.

In 1850 is die nuwe kerk in die neo-gotiese boustyl gebou en word dit baie goed instand gehou. Die houtdeur is nie gesluit nie en hierdie is een van die min kerke wat oop is. Binne is daar verskeie gedenkplate opgesit wat van die belangrikste mense in die kerkie se geskiedenis huldig. Die treffendste is die loodglaswerk wat later aangebring is, en hulde bring aan alle gevalle soldate van die twee Wêreldoorloë.

As jy dan nou klaar deur die kerkie gestap het, maak gerus ‘n draai deur die begraafplaas want dis is waar die geskiedenis van die swaarkry deur die Britse Setlaars ook vertel word op ‘n ander manier.

3-redes waarom jy Salem wil besoek:

  • Die oudste Metodiste-kerk in Suid-Afrika is op Salem.
  • Min kerke in Suid-Afrika het sulke uitstaande loodglaswerk.
  • Die krieketveld word deur menige beskou as die oudste krieketveld in Suid-Afrika.

Hoe om daar te kom:

Vanaf die R72 regoor die Kenton-on-Sea indraai, is die R343 wat na Salem lei. As jy van Port Elizabeth (Gqeberha) na Grhamastad (Makhanda) onderweg is, is die afdraai van die R343 sowat 10km voor Makhanda op die N2. Hier is Google se aanwysings: https://maps.app.goo.gl/71s2hexYyRwhVwdf6

Die pad is in ‘n goeie toestand en die omgewing is van die beste natuurskoon wat die Oos-Kaap het. Maak die roete deel van jou sloertoer.

Daar is geen toegangsgeld nie.