Dit is nie aldag dat verkeersknope in Bathurst, daardie dorpie wat deur sy inwoners gereken word as die middelpunt van die heelal te wees, voor kom nie. Veral nie oor naweke nie. Maar rondom die naweek van 9 en 10 Augustus, wanneer die winter so amper wil groet tot volgende jaar, maar die lente wil nie heeltemal oë wys nie, dan vind die Bathurst Country Affair plaas.
Mense ruk van oraloor op om die fees by te woon want waar anders gaan jy alpakas sien rondloop in die hoofstraat, ‘n bekende sjef kry wat die kombuis van die Pig and Whistle oorneem vir die naweek en ‘n wynproe, ‘n gin-proe en sommer ‘n paar boetiek biere ook ingepas kry voor jy tuisgemaakte fudge gaan koop by een van die talle stalletjies wat opgeslaan is.
Terwyl jy daar is, kan jy ook sommer inloer by die talle kunsgallerye wat uitstallings het, of selfs ‘n Persiese tapyt koop.
Vir drie dae vier die Bathurst-inwoners en hulle gaste fees met musiek en veteraanmotors, biltong en fynproewersdisse.
So as jy volgende jaar Augustus lus is vir ‘n vinnige wegbreek na die kuslyn van die Oos-Kaap, hou gerus die kalender dop vir die Bathurst Country Affair. Daar is genoeg vir almal om te doen en te eet.
3 REDES HOEKOM JY DIE BATHURST COUNTRY AFFAIR WIL BESOEK
- Jy wil saam met die gesin weglê aan die tuisgemaakte gelato wat verkoop word.
- Daardie alpakas in die straat smeek vir ‘n selfie.
- Kom probeer die bier van “The little brewery on the river” en proe waarom dit so gewild is.
Adres: Die hele Bathurst en omliggende dele.
This piece of great writing would trigger the wanderlust of any right-thinking person.
Thank you