‘n Reis na Suidoos-Asië is altyd vol verrassings. Op hierdie reis besoek ek Singapoer, Viëtnam en Kambodja. Dit is ‘n ervaring waar jy deur die andersheid en prag van die omgewing oorrompel en bekoor word. Die mengelmoes van kulture, kossoorte, geure en kleure, slaan jou asem weg. Sprakeloos vergaap jy jou aan die waterrykheid van hierdie lande met hulle massiewe riviere en unieke natuurskoon. Om dan nie eers te praat van die warm subtropiese versengende hitte en sy drukkende humiditeit nie. Wat soos ‘n paal bo water staan is dat die mense van hierdie deel van die wêreld vir niks terugstaan nie. Dit is hartsmense, omgee mense, hardewerkende mense, die vriendelikste mense wat jy kan, mense wat ook is moeg is vir konflik en wat net wil aangaan met hulle lewe om ‘n welvarende bestaan te wil voer. En heellaas, dit is mense wat omvou word deur die warmte van eeu oue gelowe en filosofieë soos Boeddhisme, Hindoeïsme, Confusianisme en die Rooms-Katolieke geloof.
Ek vlieg met een van die wêreld se voorste lugrederye naamlik Singapore Airlines, vanaf Johannesburg na Changi Lughawe in Singapoer vir ‘n kort besoek van twee dae om weer hiervandaan op ‘n twee weke lange georganiseerde toer na Viëtnam en Kambodja te vertrek. Changi Lughawe is in eie reg ‘n toeristeparadys om te geniet. Besoek gerus die indrukwekkende skoenlappertuin, verwonder jou aan die orgideë en tuine, sit agteroor in die teater se sagte stoele om een van Hollywood se nuutste flieks te kyk of sit rustig vir ‘n wyle om ‘n uiltjie te knip. As jy nie hiervoor kans sien nie, gaan geniet vir oulaas jou gunsteling Singapoer versnappering by een van die talle eetplekke om van uit te kies. En as jy nog nie ‘n geskenk of twee vir die tuisblyers gekoop het nie, is hier jou laaste kans.
Changi Lughawe
Singapoer – ‘n mega metropool
Singapoer is een van drie stedelike state. Die ander twee is die Vatikan in Rome en Monaco. Die land is sowat 710 vierkante kilometer groot en bestaan uit een hoof eiland en 63 sateliet eilande, met ’n inwoner tal van nagenoeg 5 miljoen inwoners. Om ‘n idee te kry. Suid-Afrika se kleinste provinsie, Gauteng, beslaan 18,178 vierkante kilometer. Johannesburg in vergeleke met Singapore beslaan 1,645 vierkante kilometer. Singapoer is een van die mooiste en skoonste lande ter die wêreld en beskik oor ultra moderne infrastruktuur. Honderde wolkekrabbers in veskillende boustyle toring die blou hemelruim in. Die een meer argitektonies imposant as die ander. Die stadsvaders van Singapoer het daarin geslaag om ‘n balans tussen beton en natuur te vind. Alles net om ‘n sagtheid op die oog en ‘n gevoel van ooptheid te skep. Op die grond pronk ‘n lushof van etlike honderde parke wat deurdrenk is met kronkelende wandellane. ‘n Pastel van kleurvolle plantsoorte verhelder die parke en skep dit vir die wandelaar ‘n rustigheid om van die gejaagdheid op sy drumpel te vergeet. Haas elke oop spasie op ‘n gebou is ook omskep in ‘n park. Alles net om die blyplekke op te helder en omgewingsvriendelik vir mens en dier te maak. Singapoer spog ook met die grootste hawe in Suidoos-Asië, wat terselfdertyd ook een van die besigste hawens ter wêreld is. Die honderde skepe wat daagliks deur die Seestraat van Malaga en Seestraat van Singapoer vaar weerspieël die ekonomiese welvaart wat Suidoos-Asië ervaar.
Dit was te vroeg om by ons hotel geakkommodeer te word, en ons bring ‘n vinnige besigtigingstoer aan die Nasionale Botaniese Tuin wat as ‘n UNESCO Wêreld Erfnisterrein geklassifiseer is. Dié indrukwekkende tuin is die tuiste die wêreldbekende Nasionale Orgideë park met sy meer as 20 000 kleurvolle orgidieë plante. Besoekers word hier begroet deur ‘n ongekende versameling van verskillende plant-, boom- en blomsoorte. In spraakloosheid en verwondering aanskou ‘n mens hierdie kunswerk met sy kaleideskoop van al die reënboogkleure. Vir enige plant- of tuinliefhebber, is hierdie park beslis ‘n moet om te besoek. Laat genoeg tyd toe om dit werklik te beleef.
Nasionale Botaniese Tuin en Orgidieë Park
Ons besoek ook die futuristiese Gardens by the Bay (fotos bo). Om die tuin in die aand te besoek is iets besonders om te aanskou en ‘n uitsonderlike ervaring. Die stad se donkernag verhelder in ‘n skouspel van kleur en tekstuur. Duisende inwoners en toeriste drentel komkommervry rond en vergaap hulle aan hierdie kleurvolle ligvertoning.
Drie moet sien woongebiede
Dit is nou nie my idee van ontspanning om sinneloos van een ultramoderne winkelsentrum na ‘n ander een te drentel nie. Hulle lyk vir my maar almal eenders en verkoop volgens my ook dieselfde soort produkte. Maar dan… as jy nog nie by Little India, Chinatown of Kampong Glam was nie, het jy beslis iets baie groots in jou Singapoer besoek misgeloop. Elkeen van hierdie bedrywige woongebiede met hul duisende verskillende soorte winkels, bied sy eie genot. ‘n Wandeling daarheen sal jou verras en ‘n ervaring wees wat jou lank sal by bly. Die strate is besig met mense en voertuie wat kom en gaan. Die reuk van allerlei soorte wierook en parfuum hang swaar en bedompig in die lug. Die geur van ‘n mengelmoes van Arabiese-, Indiese-, en Asiatiese spesery- en kosgeure is prikkelend, met ‘n al grommende ingewand wat soekende is na peuselhappies om die eetlus te demp. Wanneer die donkerte stadig oor die statige ou geboue neerdaal, verskyn daar ‘n kleurvolle verheldering wat die aand opsmuk. Die samedromming van mense neem toe, en die honderde eetplekke is meteens gevul vir ‘n oomblik van kuier en ontspanning.
Kampong Glam
Little India
Chinatown
Op my wenslysie was ’n besoek aan Fort Cunning en Fort Siloso (meer oor hierdie twee forte in ‘n latere weergawe). Om Fort Siloso te bereik moet jy met die metro na die hawestasie ry en dan met ‘n kabelkar oor die Seestraat van Singapoer ry na Sentosa eiland. Sentosa eiland is ‘n enorme toeriste-attraksie wat sorg vir ongelooflike avonture en ervarings. Besoeke aan ‘n unieke dieretuin, World Disneyland, unieke akwarium en haaitenk, Universal Studios, en vele meer, is maar enkele om van te noem. Dit is ‘n pretpark, baljaarplek vir oud en jonk.
Sentosa-eiland
Kliek gerus op die onderstaande skakels om meer oor hierdie pragtige land te lees.
https://www.britannica.com/place/Singapore
https://whc.unesco.org/en/list/1483
https://www.gardensbythebay.com.sg
https://www.visitsingapore.com/neighbourhood/featured-neighbourhood/chinatown
https://www.visitsingapore.com/neighbourhood/featured-neighbourhood/little-india
https://www.visitsingapore.com/neighbourhood/featured-neighbourhood/kampong-gelam
https://www.visitsingapore.com/neighbourhood/featured-neighbourhood/sentosa-island
Bron
My reis ervaring na Singapoer: 10 Oktober 2024 – 13 Oktober 2024.