Oorloë is wreed, genadeloos, sinneloos, met verwoestende nagevolge en blywende rou letsels op die bevolking. In die geval van Singapoer wat na die Tweede Wêreldoorlog uit die as uit opgestaan het en wat na byna 80 jaar as een van die wêreld se welvarendste lande gereken word, is die herinnering van sy bloedige verlede steeds diep gekerf in die inwoners se daaglikse lewe.
‘n Blits besoek aan Singapoer en met minder as 48 uur om die land te verken, is dit haas onmoontlik om al jou gunsteling besienswaardighede te ervaar. Singapoer is een enome groot metropool en het ongelooflik baie om die toeris te bied. Die meeste toeriste stroom gewoonlik in hul duisende na die meer gewilde toeriste besienswaardighede met min wat na die land se goed bewaarde oorlogmuseums, slagvelde, begraafplase of oorloggedenktekens gaan, mits jy ‘n belangstelling daarin het.
Met ‘n voldag tot my beskikking om die stad te verken, is besluit om die beste daarvan te maak en om twee van die Tweede Wêreldoorlog se ikoniese forte te besoek, tewete Fort Cunning, ook bekend as “The Battlebox” en Fort Siloso.
Om meer oor die ontstaan van dié twee forte te wete te kom, moet ‘n mens in die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog gaan rond krap. Vir baie van ons is die oorlog wat in die Europese teater afgespeel het straks die bekendste. Minder bekend is die maritieme konflik wat in die Stille Oseaan afgespeel het toe die Japanners die Amerikaanse Vloot in Pearl Harbor in die vroeë oggendure op 7 Desember 1941 aangeval het. Hierdie aanval het ‘n nuwe gevegsfront geopen wat tot ‘n bloedige en uitmergelende konflik tussen die Amerikaanse en Japanse vloot sou lei.
Geskiedskrywers is van mening dat die hoofoorsaak van die oorlog in die Stille Oseaan, Japan se besluit was om ‘n ryk te bekom. Japan is ‘n eiland wat, net soos Brittanje, vir sy rou material van oorsee afhanklik is. Japan het in die 1930’s Sjina ingeval en met uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, het sy ambisies om welvaart te bekom, toegeneem. Die Europese koloniale magte het besittings in die Verre-Ooste gehad. Frans Indo-Sjina, soos Viëtnam, was ryk aan rys. Die Federale Maleise State en Birma, wat toe aan Brittanje behoort het, was ryk aan tin, olie en rubber. Die Nederlands-Oos-Indiese gebied was ryk aan olie. Al hierdie rykdom was in Japan se visier en ook ‘n maklike prooi. Die Filippyne wat gedurende hierdie tyd hul onafhanklikheid van die Verenigde State van Amerika verkry het, het egter in sy pad gestaan om hierdie rykdom te bekom. Die Filippynse gewapende magte was egter steeds onder Amerikaanse bevel, en pogings van Japan om sy ryk suidwaarts na die ryk argipels van Oos-Indië uit te brei, is as ‘n uitdagende gebaar aan Amerikaanse invloed asook deur Sjina en regdeur die Stille Oseaan beskou.
Die aanval op Pearl Harbor, hoe vreesaanjaend vir die Amerikaners, was nie die enigste Japanse aanval op 7 Desember nie. Daardie selfde dag, wat die 8ste Desember was aan die westelikekant van die internasionale tydslyn, het die Japanners onder andere Hongkong, Maleisië en drie Amerikaans-gehoue eilande in die Stille Oseaan aangeval. Die Japanners het na die aanval op Pearl Harbor meer as een doel voor oë gehad. Hulle het hul eerste doel met ‘n verstommende spoed bereik. Pearl Harbor is op 7 Desember 1941 gebombardeer. Teen 10 Desember het die Japanners Guam verower. Op 23 Desember het hulle Wake verower. Op Kersdag het hulle Hongkong verower. Op 7 Maart 1942 het hulle Rangoen, die hoofstad van Birma verower en op 15 Februarie het Singapoer geval.
Geskiedskrywers meld dat in Londen niemand anders die verlies van Singapoer erger ervaar het as Winston Churchill nie, As Hoof van die Admiraliteit was hy in 1940 verantwoordelik vir die verdediging van Singapoer. In ongeloof het hy aan sy Kabinet gesê dat dit haas onmoontlik vir die Japanners sal wees om Singapoer aan te val omdat die land ‘n fort is wat met 15-duim kanonne bewapen is en deur ongeveer 20 000 soldate beskerm word. Churchill was van mening dat vanuit ‘n logistieke oogpunt, dit nie vir die Japanners moontlik sou wees om ‘n suksesvolle aanslag op Singapoer te kon uitvoer nie.
Die Japanners het fietse in plaas van skepe gebruik. Hulle het die vloot wat Churchill as onoorwinlik beskou het – die slagskip prince of Wales en die oorlogkruiser Reuke, binne twee dae na Pearl Harbor aangeval en gekelder. Hulle het Maleisië en Singapoer met ‘n mag van 35, 000 man, en nie 50 000 soos Churchill gereken het nodig sou wees, verower.
Die 130 000 geallieerde soldate wat onder die bevel van die Britse opperbevelhebber luitenant generaal Arthur Ernest Percival was, is tot oorgawe gedwing en op 15 Februarie 1942 is die oorgawe dokument in die Ford Fabriek in Bukit Timah Weg, Singapoer onderteken. Percival was tot en met die val van Japan in 1945 ‘n krygsgevangene.
Die grootste les wat die Japanners die Geallieerdes in Maleisië geleer het, was dat die oerwoud neutraal is. Die oerwoud het die Japanners nie gekeer nie. Hulle het nie in vragmotors gery nie. Hulle het geloop. Hulle het met fietse gery. Hulle het nie paaie nodig gehad nie. Binne weke, nie maande nie, het hulle die noordelike strand van die straat wat Singpoer-eiland van die Maleisiese vasteland skei, bereik. En die kanonne? Dié (nie almal) was in ‘n seewaartse rigting ingestel omdat daar gereken was dat Japan ‘n aanval daarvandaan sou loods.
Churchill het hom later oor hierdie vernederende terugslag soos volg uitgelaat:” Ek moes geweet het. My raadgewers moes geweet het en ek moes vertel gewees het en ek moes gevra het. Die rede waarom ek niks oor hierdie aangeleentheid gevra het nie, terwyl ek duisende ander vrae gevra het, was die moontlikheid dat Singapoer geen verdediging van die land se kant gehad het nie, nie vir een oomblik vir my moontliker gewees het as dat ‘n oorlogskip sonder ‘n bodem te water gelaat kon word nie.”
Die Japanners is tot oorgawe gedwing en op 12 September 1945 het general Seishichiro Itagki van die Japanse 7de Leër die oorgawe dokument in die Singapoer Munisipale gebou onderteken.
Fort Canning “Battlebox”
Ek besoek Fort Canning, ‘n ondergrondse bunker in die hartjie van die stad wat as die bevel- en beheersentum van die Geallieerde Magte gedien het. Hiervanuit het lt. genl. Percival sy magte aangevoer tydens die Slag van Singapoer. Die gefortifiseerde bunker bestaan uit ‘n aantal vertrekke waarin die aktiwiteite wat tydens die oorlog plaasgevind het uitgebeeld word. Die onderstaande fotos is van lewensgrootte poppe wat die aktiwiteite in die bunker uitbeeld.
Kliek op die onderstaande skakel vir meer inligting oor Fort Canning.
https://en.wikipedia.org/wiki/The_Battle_Box
https://www.nlb.gov.sg/main/article-detail?cmsuuid=1afe9a7e-f0bd-4b11-9fe3-bb3aab31c3e8
https://www.nlb.gov.sg/main/article-detail?cmsuuid=1afe9a7e-f0bd-4b11-9fe3-bb3aab31c3e8
Fort Siloso
Fort Siloso is in die laat 19de eeu op die eiland Sentosa gebou om beskerming te bied teen enige seewaartse inval wat die belangrike handelsroete van Singapoer wat onder Britse bewind was, sou bedreig. Benewens die indrukwekkende verskeideheid grofgeskut wat rondom die fort geplaas is, bied die “Oorgawe Kamer” oftewel “Surrender Chambers”, ‘n blik op die traumatiese gebeure wat op die eiland afgespeel het toe die Japanse magte die eiland bestorm en beset het en daarmee lt.genl. Percival tot oorgawe gedwing het.
Die onderstaande skakels verskaf meer inligting oor Fort Siloso.
https://www.sentosa.com.sg/en/things-to-do/attractions/fort-siloso
https://en.wikipedia.org/wiki/Fort_Siloso
Lees meer oor Die Slag van Singapoer
https://www.nhb.gov.sg/~/media/nhb/files/places/trails/world%20war%20ii/wwii-text.pdf
https://www.pacificatrocities.org/singapore-world-war-ii-timeline.html
https://www.roots.gov.sg/stories-landing/stories/world-war-ii/story
https://www.nlb.gov.sg/main/article-detail?cmsuuid=1afe9a7e-f0bd-4b11-9fe3-bb3aab31c3e8
Ander militêre museums, begraafplase en forte
https://www.tripadvisor.co.za/Attractions-g294262-Activities-c49-t32-Singapore.html
https://corporate.nas.gov.sg/former-ford-factory/overview
https://www.cwgc.org/visit-us/find-cemeteries-memorials/cemetery-details/2053500/singapore-memorial
https://www.cwgc.org/visit-us/find-cemeteries-memorials/cemetery-details/2004200/kranji-war-cemetery
Bykomende bron:
Afrikaanse weergawe van die T.V. reeks “The World at War” “Die Wêreld Voer Oorlog”: Mark Arnold-Foster. in Afrikaans vertaal deur Rina van Dyk, bygestaan deur Gert Potgieter en Derick Jacobs. 1973.