DIE ADDO SE ROOIDAM. DIE HAPOOR-DAM SONDER DIE COWBOYS EN HULLE TROKKIES

As daar nou een plek in Suid-Afrika is waar mens met sekerheid kan sê jy olifante gaan sien, is dit die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap. As jy in die park nie ‘n olifant sien nie dan moet jy nog in die parkeerterrein van die hoofkamp staan met jou toerwa.

Addo is in 1931 gestig is om slegs elf olifante te beskerm, het gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste bewaringsgebiede wat meer as 180 000 hektaar omvat.

Tans is die park die tuiste van die “Groot Sewe”, wat afgesien van die ikoniese olifante, saam met leeus, luiperds, renosters en buffels ook die suidelike noorkapperwalvis en withaai insluit.

Die eerste ding wat talle besoekers doen as hulle uit die hoofkamp vertrek is om na die Hapoordam te ry om olifante te gaan kyk. En dit is so, daar is meestal olifante. Maar een van die hoogtepunte van enige Nasionale Park, is juis om die stiller paadjies te ry, die minder gewilde watergate te besoek en te talm. In die Addo is dit die Rooidam-watergat waar jy sal wil talm. Hierdie drinkplek lok ‘n wye verskeidenheid wild, veral gedurende die droë seisoen. Besoekers kan sien hoe olifante, buffels en ander diere bymekaarkom om te drink, wat ‘n unieke en onvergeetlike wildkyk-ervaring skep.

‘n Bietjie ontspanning in die Rooidam deur ‘n grootvoet. Foto: Kaylee Emdin
Badtyd is klaar. Foto: Kaylee Emdin

En as jy so bietjie stilte soek, is dit die plek. Die ryke verskeidenheid van wildlewe by die dam maak van die dam ‘n weggesteekte juweel in die park wat elke jaar deur duisende besoekers van regoor die wêreld besoek word.  Die drinkplek het ook baie minder van die alewige toertrokkies wat so sonder maniere voor mens intrek om vir die buitelanders die beste uitsig te gee, voor hulle weer soos cowboys na die volgende besigtiging vertrek.

So talm maar by die Rooidam-watergat. Dit gaan die moeite werd wees.

Buiten die natuurlewe bied die park merkwaardige landskappe, insluitend die Zuurberg-berge, die Sondagsriviervallei en die Alexandrië-kusduine. Besoekers kan verskeie doendinge geniet, soos wildritte, staproetes en voëlkyk.

Addo-olifantpark is ‘n moet-besoek bestemming en sy uiteenlopende natuurlewe, pragtige natuurskoon en toewyding aan bewaring maak dit ‘n skat van die Oos-Kaap.

Drie redes om die Addo te besoek:

  • Jy gaan olifante sien.
  • Dit is ‘n katspoeg van Port Elizabeth (Gqerberha) af en so 90 minute se ry van Port Alfred af.
  • Dit is ‘n malariavrye gebied.

Wat jy moet weet:

  • Pak maar genoeg drinkgoed in, daar is nie verversings te koop by die piekniekplekke nie.
  • As jy kan, pak maar jou langlens in, daar is genoeg natuur om jou om wat dit die moeite werd maak.
  • Jy kan enige tyd van die dag by die drinkplek stop, die kanse is goed jy gaan diere sien. Van lewenslustige vlakvarke tot Egipties ganse en natuurlik die troppe olifante.

Kaartwerk: https://maps.app.goo.gl/h4aksWbzv9BFtqSB6

As jy meer wil weet:

foto: Kaylee Emdin