VIETNAM – VAN ‘N STORMAGTIGE VERLEDE TOT ‘N VOORUITSTREWENDE LAND IN SUIDOOS-ASIË

‘n Reis na enige van die Suidoos-Asiatiese lande is altyd ‘n onvergeetlike ervaring en propvol verrassings. In die geval van Viëtnam word ‘n mens met aankoms deur die warmte, hartlikheid en medemenslikheid deur sy 100 miljoen inwoners omarm. Minder sigbaar, maar dog duidelik in die agtergrond, is die rou, bitterseer en letsels van die verlede. Viëtnam moes deur die eeue heen vele oorloë trotseer en oorleef, Ook moes die land die onderwerping van Sjinese en Franse heerskappy met goed georkestreerde burgerlike verset oorwin. Die Viëtnamse oorlog tussen 1965 en 1975 is iets in die verlede, maar tog is die letsels en herinneringe steeds duidelik sigbaar. ‘n Verenigde Viëtnam het na die konflik uit die as opgestaan, homself gevind, ‘n helingsproses begin en die land op ‘n weg na selfbeskiking en ontwikkeling geplaas. Die vernederende Amerikaanse veiligheidsmagte en sy bondgenote het vlugtend en druipstert Viëtnam verlaat. Vandag is modern Viëtnam ‘n diverse land, modern, maar tog ook tradisioneel, kommunisties, maar tog ook kapitalisties, kosmopolitaans, maar terselfdertyd ook geseën met ongekende kwaliteite en rykdom.

Om begrip te hê waar hedendaagse Viëtnam vandaan kom en hom tans bevind, moet ‘n mens diep in die geskiedenis gaan rondkrap. Die antieke geskiedenis van Viëtnam dateer so ver terug as 5 000 jaar met die ontwaking van beskawings in die noordelike dele van die Rooirivier-delta en in die suide rondom om die Mekong-delta. Die inwoners hier was uit verskeie dinasties afkomstig, onder andere uit die Khmer koningkryk en Hindu outokrasie. Teen ongeveer 200 v.C. het die Sjinese invloed na Viëtnam oorgespoel. Talle dinasties het in bloedige konflikte die Viëtnamese bevolking onderdruk en beheer.

‘n Keerpunt in die geskiedenis was met die Franse besetting van Vietnam vanaf 1884 tot en met 1954. Die Franse regering kon met hierdie besetting sy strategiese en religiseuse invloed verder in Indochina uitbrei. Saigon is in 1861 oorgeneem en ses jaar later die hele suidelike deel van Vietnam. Laat in die 1880’s het die noordelike gebied van Viëtnam gevolg. Dié gebied is tot ‘n Franse protektoraat verklaar en is onder die beheer van die laaste monarg in Viëtnam, die 12-jarige prins Nguyen Vinh Thuy geplaas.

Die Russiese Rewolusie van 1917 en ook die twee Wêreldoorloë, sou bepalende gevolge vir die Franse kolonisasie van Viëtnam inhou. Terloops, die naam Viëtnam is afgelei uit twee woorde naamlik Viet, met verwysing na mense, en Nam, ‘n verwysing na suid.

Die grondslag vir Viëtnam se weg na bevryding het reeds teen 1925 sy beslag gekry met die stigting van ‘n kommunistiese beweging bekend as “Vereniging van die Rewolusionêre Jeug” onder aanvoering van Ho Chi Minh wie ook later as die “Vader” van Viëtnam beskou sou word. Die beweging het later in die Kommunistiese Party van Viëtnam ontwikkel.

Aan die einde van Tweede Wêreledoorlog en met die onttrekking van die Japanners uit Viëtnam, het die stryd om beheer oor Viëtnam voortgeduur. Uit noordelike gebied van Viëtnam gerugsteun deur Sjina, het general Vo Nguyen Giap ‘n vel guerillastryd teen die Franse magte in die suidelike deel van Viëtnam voer. Die meester strateeg wat Giap was, verneder die Franse magte in ‘n beslissende offensief wat daartoe sou lei dat die Franse magte op 7 Mei 1954 op ‘n vernederende wyse tot oorgawe gedwing is. Die Geneva ooreenkoms word in Augustus 1954 deur die twee strydende partye onderteken en daarmee word Viëtnam in twee onafhanklike lande verdeel met die 17de parallel as die skeidslyn. Die 17de parallel is die geografiese verwysing na die 17° N breedtesirkel. Hierdie verdeling het die begin van ‘n staat van ‘n bloedige oorlog tussen Noord-Viëtnam en Amerika ingelei.

Die Verenigde State van Amerika het hierdie toedrag van sake uitgebuit en Suid-Viëtnam in ‘n Amerikaans gesteunde protektoraat omskep. Sodoende kon hy sy stategiese en globale verset teen die invloed van Kommunisme hokslaan. Noord-Viëtnam aan die anderkant het as teenvoeter ‘n rewolusionêre bevrydingsmag totstand gebring. Al hierdie gebeure het tot ‘n direkte en bloedige konflik tussen Noord en Suid gelei. Teen 1965 het die Amerikaanse magte in Suid-Viëtnam drasties tot meer as 500 000 troepe toegeneem, maar is kort daarna aangevul met meer as 100 000 soldate van Geallieerde Bondgenote. Hierdie getalle sou later soos die konflik intenser word, drasties toeneem.

Die bekende “Tet Offensief”, waartydens ‘n verrassingsaanval op die Amerikaanse ambassade in Saigon uitgevoer is, was nie net vernederend nie, maar het ook skokgolwe deur Amerika gestuur. Die daarop volgende vergeldingsaanslag wat tydens die “My Lai Slagting” op 16 Maart 1968 sou volg, het die Amerikaanse bevolking erg ontstel en verdeel. In ‘n kwessie van drie uur is 500 Viëtnamese burgerlikes koeëlbloedig deur Amerikaanse soldate vermink en uitgewis. Hierdie gruweldade het soos ‘n veldbrand deur Amerika en na die res van die wêreld uitgekring. Internasionale verset teen hierdie gruweldaad, het wêreldwyd opgevlam en die anti-oorlogbeweging het sodanig in die Verenigde State pos gevat, dat dit tot die onttrekking van Amerikaanse magte in 1973 gelei het.

Niet was dit nie die einde nie. Op 30 April 1975 loods die Noord-Viëtnamese Leër ‘n finale en beslissende aanslag op Saigon. Die oorblywende Amerikaanse soldate, diplomate en ambassade personeel slaan op vlug en verlaat Viëtnam. Hiermee kom ‘n konflik van meer as ‘n dekade  tussen westerse imperialisme en kommunisme tot ‘n einde met die seëvierde Noord-Viëtnamese as oorwinnaars. Die bloedige en geweldadige geskiedenis van Viëtnam word sodoende afgesluit met die eenwording van die twee lande wat voortaan Viëtnam sou heet. Ho Chi Minh wie as die “Vader” van Viëtnam beskou word, het ‘n groot rol in hierdie stryd tussen Noord en Suid gespeel, maar hy kon ongelukkig weens sy vroeë afsterwe in 1969, nie die vreugde van die oorwinning saam met sy volk beleef nie.

OORLOG HERINNERINGE

Hoa Lo Gevangenis

Die Hoa Lo Gevangenis is in die hoofstad Hanoi geleë. Wat van die tronk oorgebly het, is oor tyd gerestoureer en in ’n moderne museum omskep. Hier kry die besoeker ‘n kyk na die onderdrukking van Franse kolonialisme oor ‘n tydperk van bykans ‘n eeu. Die tronk is in 1896 opgerig om die duisende Viënamese patriotiese en rewoluionêre vegters in gruwelike en onmenslike omstandighede gevange te hou. Frankryk het Viëtnam vanaf 1858 tot en met 1954 beset. Onder die inwoners van Hanoi, het die tronk as “hell on earth” bekend gestaan omdat die gevangenes hier op ‘n wreedaardige en brutale wyse gemartel en om die lewe gebring is. Een van die metodes tydens teregstellings was die gebruik van die middeleeuse guillotine. Ander vorme van teregstellings was om veroordeeldes te hang of om ekstreme middeleeuse geweld te gebruik.

In die tydperk 5 Augustus 1964 tot en met 30 Desember 1972, het die Noord-Viëtnamese leër en ook met die hulp van die plaaslike bevolking, sowat 4,181 Amerikaanse vliegtuie afgeskiet. Talle vlugbemanning het omgekom, maar diegene wat oorleef het, is gevange geneem en in die Hoa Lo gevangenis aangehou. Onder die aangehoudendes was honderde ervare Amerikaanse vlieëniers. Dit is hier waar daar volgens literatuur ‘n interesssante kinkel in die verhaal kom. Nieteenstaande die uiters moeilike toestande in die land weens ‘n tekort aan lewensmiddele, het die Noord-Viëtnamese regering daarvoor gesorg dat die Amerikaanse vlieëniers in aanhouding, menslik behandel word en die bes moontlike leefbare omstandighede geniet. Hulle kon byvoorbeeld na musiek en die “Voice of America” luister, sport beoefen en rolprente kyk. Beseerdes het die nodige mediese versorging geniet terwyl feesdae ook gevier is. Meer merkwaardig is die feit dat die gevange vlieëniers hul godsdiens aktiwiteite kon uitleef. Geklee in burgerlike drag om soos toeriste te lyk, kon hulle die mis in die Da Minh Rooms Katolieke Kerk bywoon. Hier kon hulle ook met mede kerkgangers omgaan. Die gevangenisowerheid het diegene wat tot die Protestanse geloof behoort, aangemoedig om hul eie dienste te reël. Onder die gevangenes het die tronk as die “Hilton Hotel” bekend gestaan. Dit is interessant om te weet dat die bekende Amerikaanse politikus, senator John McCain wie ook ‘n vegvlieënier was, ook hier aangehou was.

War Remnants Museum

Hierdie museum is in die stad Ho Chi Minh geleë, en in 1975 opgerig. Die museum huisves nege permanente tematiese uitstallings asook talle spesiale versamelstukke en beeld die sombere en verwoestende gebeure van die Viëtnamese oorlog uit. In die opelug uitstalling kan verskeie soorte vliegtuie, helikopters, grofgeskut, pantservoertuie en ammunisie besigtig word. In een van die sale kan die fotos van 134 fotojoernaliste van 11 lande waarvan sommige met hul lewens geboet het, besigtig word.

Cu Chi Tonnelkompleks

Diep onder die klip harde kleigrond van die Cu Chi distrik sowat 40km vanaf Saigon, is ‘n spinnekopweb van tonnels geleë wat oor ‘n afstand van sowat 400km vanaf die westelike kant van Saigon tot teen aan die grens met Kambodja strek. Hierdie gebied  bekend as die “Iron Triangle”, is die tuiste van die Cu Chi Tonnelkompleks. Die tonnels verbind ook ‘n aantal bevelsposte met mekaar. Die Noord-Viëtnamese rewolusionêre magte kon vanuit die tonnelkompleks aanvalle op Saigon orkestreer. Die tonnels is oor ‘n lang tydperk deur inwoners van die distrik gegrawe en het voorsiening gemaak vir ‘n aantal hospitale, ammunisie magasyne, telekommunikasiesentrums, ontsnappingsroetes, voedselpakkamers en slaapkwartiere. Dit is verstommend hoe vernuftig die Noord-Viëtnamese te werk gegaan het om hul ondergrondse tonnel bedrywighede te beskerm. Die stelsel het voorsiening gemaak vir ‘n omvattende netwerk van dodelike hinderlae en lokvalle wat bykans onopspoorbaar was.

As jy meer van die museums hierbo te wete wil kom, raadpleeg gerus die onderstaande bronne.

Webwerwe

https://en.wikipedia.org/wiki/C%E1%BB%A7_Chi_tunnels

https://www.thenmusa.org/articles/tunnel-rats-of-the-vietnam-war/#:~:text=Viet%20Cong%20tunnels%20were%20generally,or%20collapse%20of%20the%20tunnel.

https://www.history.com/topics/vietnam-war/cu-chi-tunnels

https://anzacportal.dva.gov.au/wars-and-missions/vietnam-war-1962-1975/events/combat/viet-cong-tunnels

https://en.wikipedia.org/wiki/French_Indochina

https://www.britannica.com/place/Vietnam/The-conquest-of-Vietnam-by-France

https://en.wikipedia.org/wiki/French_conquest_of_Vietnam

https://history.state.gov/milestones/1953-1960/dien-bien-phu

https://en.wikipedia.org/wiki/United_States_in_the_Vietnam_War

https://www.britannica.com/event/Vietnam-War

https://www.bbc.co.uk/bitesize/guides/zv7bkqt/revision/2

https://www.britannica.com/event/Vietnam-War/The-United-States-enters-the-war

Boeke:

“Die Grondleggers van Rewolusionêre Oorlogvoering” H.R. Lass. Sentrum vir Internasionale Politiek. Potchefstroom Universiteit vir C.H.O. 1975.

Travelbook – Vietnam: Insight Guides. www.insightsguides.com/destinations

Brosjures:

Chu Chi Tunnel Historic Relics & Cuchi Tunnel Complex. www.diadaocuchi.com.vn

War Remnants Museum. www.baotangchungtichchientranh.vn

Hoa Lo Prison Historical Relic. Hanoi 2020.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.