As jy en jou toerwa toevallig die grondpad vanaf Bathurst na Kleinemonde in die Oos-Kaap tref tydens jou sloertoer gaan jy verby twee werkwaardige plekke ry. Die een is die St Stephen’s Metodiste kerk (https://maps.app.goo.gl/z494sHxA4uUcZV9D7) , wat ‘n stop werd is, maar ook in die omgewing van die kerkie gaan jy die tuiste van “Blind Love”, die liefdestaak van Philippa du Toit, aantref. Hier op die stuk grond kry verwaarloosde donkies en perde ‘n tweede kans op ‘n gelukkige dierelewe.
“My liefde vir diere kom al vandag ek jonk is. As kind sou ek my sakgeld in ‘n blik spaarbussie gooi tot daar genoeg is sodat ek dit by die poskantoor kon gaan omruil vir ‘n posorder wat dan vir perde welsyn organisasies in die Verenigde Koningkryk gestuur is. Ver oor die water waar Oupa en Ouma in Skotland gebly het.” Aan die woord is Philippa du Toit, ‘n bekende in kunskringe regoor die wêreld vanweë haar, en haar man Werner, se keramiekwerk by Mud Studio www.mudstudio.net , maar in die Port Alfred omgewing is sy veral bekend as die eienaar van die dierewelsynsorganisasie “Blind Love”, waar verwaarloosde donkies en perde ‘n skuilplek en veilige hawe op hulle plaas buite Bathurst in die Oos-Kaap kry.
Vir Philippa was dit nie altyd donkies gewees nie. Toe die Du Toits in Ladybrand gebly het was dit perde gewees. “Blind Love” is juis geregistreer nadat ‘n perd, een van die talle wat sy onder haar vlerke geneem het begin blind word het en sy nie die perd wou uitsit nie. Vir haar was dit ‘n leerkurwe want daar is nie baie blinde perde in Suid-Afrika by wie se eienaars sy kon raad vra nie. Gelukkig was daar verskeie organisasies in die buiteland waar sy kon raad kry en verder het sy haar eie ervaring en oordeel gebruik om seker te maak die perd is veilig en kalm. Vandag loop daar twee blinde perde naby haar huis rond. Gelukkig met die liefde en aandag wat hulle kry.
Teen einde van 2020 het hulle besluit om ‘n huis met genoeg grond vir al die perde in die Port Alfred omgewing te koop en na ‘n gesoek het hulle so 15km buite Bathurst reggekom.
Sy was omtrent ‘n jaar in Bathurst toe bel die DBV haar oor verwaarloosde donkies wat op ‘n plaas was en of sy nie plek vir hulle het nie. Dit was haar eerste donkies, skaars ‘n jaar later toe kry sy weer ‘n oproep van die DBV oor 15 donkies wat geskut is en wat geen heenkome het nie. Daarby was meeste van die donkies dragtig gewees. En so groei Philippa se donkies amper oornag met rasse skrede.
Vandag bied “Blind Love” ‘n tuiste vir 25 donkies. “Wat ek nooit geweet het nie, is hoe sosiaal en slim donkies is,” vertel sy. “Hulle het hegte gesinstrukture, so mens kan nie net sommer een laat aanneem nie, hulle mis mekaar vreeslik. Die omstandighede moet reg wees en dan moet die voornemende eienaars ook aan sekere vereistes voldoen. Ek plaas ‘n donkie net uit as aan al die vereistes voldoen word.”
Haar betrokkenheid by die welsyn van donkies het haar dan ook betrokke gemaak by die donkies wat vryloop in Grahamstad (Makhanda) se strate. “Die hele aangeleentheid is nogal erg ingewikkeld, want die donkies is nie gebrandmerk nie, so mens is nie altyd seker oor wie se donkies dit is nie. Sommige van die inwoners beskou die donkies as deel van hulle dorp en as ‘n soort toeriste aantreklikheid, terwyl ander voel daar is te veel donkies en daar moet opgetree word om die donkies uit die strate te kry.” Philippa is deel van ‘n komitee wat na oplossings soek om mense tegemoet te kom. “ Ons kyk nou na inisiatiewe waar ons byvoorbeeld ‘n donkie-optog eenmaal ‘n jaar kan hou deur die strate van die dorp en daarna kan die donkies ondersoek word en medikasie verskaf word as dit nodig is. Daar is nog ‘n lang pad om te stap, maar in die algemeen is mense bereid om te help soek vir oplossings.”
HANDEL IN DONKIEVELLE
Die welsyn van donkies is vir Philippa iets wat na aan haar hart lê en is die handel in donkievelle dus vir haar ‘n diep emosionele kwessie. Wêreldwyd, maar veral in Afrika word donkies en gemeeskappe verwoes deur die handel, want nie net is dit die donkies wat doodgemaak word nie, maar baie keer word die donkies gesteel by mense wat die donkies elke dag moet gebruik om lewensmiddele te vervoer. Dit het dus ‘n verwoestende ekonomies impak op gemeenskappe.
Die handel in donkievelle in Suid-Afrika is ‘n ontluikende bedryf wat aansienlike ekonomiese gevolge het. Hierdie handel word hoofsaaklik gedryf deur die vraag na donkievelle in China, waar dit gebruik word om ‘n tradisionele medisyne genaamd ejiao te vervaardig, wat na bewering gesondheidsvoordele inhou soos die verbetering van sirkulasie en die bevordering van die immuunstelsel. Die winsgewende aard van die handel het gelei tot ‘n toename in donkieboerdery en -slagting, met Suid-Afrika wat ‘n noemenswaardige speler in hierdie wêreldmark geword het.
Een belangrike kwessie is die volhoubaarheid van die handel. Die groot vraag na donkievelle het tot oorbenutting gelei, met berigte van donkiebevolkings wat vinnig afgeneem het. Hierdie afname bedreig nie net die ekologiese balans nie, maar ook die langtermyn lewensvatbaarheid van die handel self. Daar word geraam dat daar elke jaar minstens 5.9miljoen donkies wêreldwyd vir hulle velle geslag word.
Nog ’n bekommernis is die welsyn van die donkies. Daar is berigte van onmenslike behandeling en slagpraktyke, wat etiese vrae oor die handel laat ontstaan. Dit het gevra vir strenger regulasies en toesig om te verseker dat die diere menslik behandel word.
In Februarie 2024 het Afrika-staatshoofde tydens die 37ste Afrika-unie (AU)-beraad in Addis Abeba, Ethiopië, ingestem om die handel in donkievelle te verbied. Die doodmaak van donkies vir hul huide is nou onwettig regoor die vasteland, of dit toegepas word is natuurlik ‘n ander vraag. Afrika het ongeveer 33 miljoen donkies, ongeveer twee derdes van die wêreld se geraamde 53 miljoen.
FEITE OOR DONKIES
- Hulle word oud. Donkies kan tot die rype ouderdom van 50 jaar en ouer leef. So as jy wil weet van ‘n dier met ‘n lang verbintenis, dan is dit die donkie. Philippa het lighartig daarna verwys dat 90 sal moet word om saam met haar donkies oud te word.
- Hulle het groot ore. Groot ore help om ‘n donkie se gehoorsintuig te verhoog, sodat dit die geroep van tropmaats—en roofdiere—van kilometers ver kan opvang. Donkies gebruik ook hul groot ore vir afkoeling; die groter oppervlakte help die donkie om sy interne hitte teen ‘n hoë tempo uit te dryf om koel te bly in warm woestynomgewings.
- Donkies se gebalk is uniek. Die donkie se kenmerkende klank word balk genoem. Dit kom net by donkies voor omdat dit ‘n vermoë vereis wat donkies het, maar wat by perde en sebras ontbreek. Donkies kan vokaliseer tydens beide in- en uitasem. Die hee kom tydens luginname voor, en die haw kom tydens luguitvloei. Ten spyte daarvan dat hierdie klank spesifiek vir donkies is, is daar steeds ‘n mate van variasie. Die duur en frekwensie van ‘n balk is byvoorbeeld uniek aan elke individuele dier.
- Die donkie se voorvaders. Daar is twee spesies wilde-esel: die Afrika-wilde-esel en die Asiatiese wilde-esel. Slegs eersgenoemde is egter die voorvader waarna vandag se mak donkies opgespoor kan word. Ongelukkig, ten spyte van die begin van mak donkies 5 000 jaar gelede, is die Afrika-wilde-esel in gevaar. Volgens die IUCN (International Union for Conservation of Nature) word die Afrika-wilde-esel kritiek bedreig met slegs tussen 23 en 200 volwassenes wat in die natuur oorgebly het in 2014. Dit word gejag vir kos en tradisionele medisinale doeleindes, en vee-kuddes kompeteer met die wilde diere vir die bietjie water wat in hul droë habitat gevind kan word. Die toekoms vir die Afrika wilde-esel lyk dalk donker, maar mense werk daaraan om hulle te beskerm. Die Konvensie oor die Bewaring van Migrerende Spesies van Wilde Diere (CMS), ‘n omgewingsverdrag van die Verenigde Nasies, het ‘n plan in 2017 geskep genaamd die “Padkaart vir die Bewaring van die Afrika-wilde-esel (Equus africanus).” Hierdie plan bevat en skets doelgerigte doelwitte en aksies wat oor die volgende 20 jaar geneem moet word. Intussen is daar ook wetgewing in plek om hierdie donkie-voorouers te beskerm, insluitend volle wetlike beskerming in Eritrea en Ethiopië en die vestiging van beskermende natuurreservate.
- Hulle is hoogs sosiaal. Donkies is sosiale diere wat nie daarvan hou om alleen te wees nie. Hulle het as tropdiere ontwikkel en vorm diep, lewenslange bande met ander donkies of diere met wie hulle ‘n weiveld deel. Die noue band tussen twee donkies word ‘n paarband genoem, en daar is navorsing om die band te bewys. Om ‘n paar te skei het negatiewe effekte op beide donkies, insluitend stres, pyngedrag en verlies aan eetlus. Dit is hoekom, vir diegene wat belangstel om een van hierdie diere te besit, word dit in die algemeen aangeraai om twee donkies huis toe te bring of ten minste jou donkie by potensiële vriende, soos ‘n perd, te plaas.
- Hulle is koppig vir ‘n rede. Donkies is bekend daarvoor dat hulle koppig is, hul voete plant en bly sit, ongeag hoe hard ‘n hanteerder trek. Maar net omdat donkies geneig is om weerstand te bied, beteken dit nie dat die diere dom is nie. Inteendeel. Donkies het ‘n skerp gevoel van selfbehoud. As hulle voel dat hulle in gevaar is, eerder as om weg te hardloop, sal hulle hul man staan en weier om te beweeg, wat hulle tyd gee om hul eie besluit te neem oor of dit veilig is om voort te gaan of nie. Hierdie reaksie is duidelik anders as dié van perde wat, wanneer hulle bang is, gewoonlik dadelik vlug.
- Sommige donkies is klein. Miniatuur donkies is indrukwekkend klein. Inheems aan Sicilië en Sardinië, staan hulle nie langer as drie voet hoog by die skouer nie. Die Guinness-wêreldrekord vir die kortste donkie behoort tans aan KneeHi op 25,29 duim lank, maar nog ‘n miniatuur-donkie, Ottie, het in 2017 19 duim hoog gestaan toe hy volgroeid was en nooit amptelik die titel ontvang nie. Dit is belangrik om daarop te let dat, anders as baie ander miniatuurdierrasse, die miniatuurdonkie nie ‘n afgeteelde weergawe van die “normale” dier is nie – sy grootte is natuurlik.
SKENKINGS
Soos verwag kan word, eet donkies nie vars lug nie, so as jy graag ‘n bydrae wil maak tot hierdie liefdestaak kan jy of kos skenk of ‘n donasie maak. “Blind Love” is ‘n geregistreerde organisasie sonder enige winsbejag. Hulle besonderhede is:
“Blind Love”
FNB business acc
Acc no 62457708413
Alle skenkings is belastingvry. “Blind Love” is nou ‘n geregistreerde openbare voordeel-organisasie (soos SARS dit verduidelik in Engels – Public Benefit Organisation) PBO 930076544 en kan ‘n Artikel 18 A belastingvrystellingsertifikaat uitreik.
“Blind Love” het oor die afgelope 20 jaar uitgebrei en hulle programme sluit tans in
– Die Thaba’nchu karperd uitreik program
– Die Grahamstad Werkende Donkie Uitreik Program
–En die Veilige Hawe buite Port Alfred waar hulle perde en donkies vry kan rondloop.
“Blind Love” is ‘n geregistreerde organisasie sonder winsbejag. Registrasienommer 231-107 NPO.
Al hulle kontakbesonderhede is op hulle webblad https://blindlove.co.za/
Wonderlike stuk! Dankie het so geniet! Hoop om spoedig draai te gaan maak!